Ware verhale van geloof
Daar is geen kleedrepetisie om ons voor te berei vir die lewe nie. Soms verg dit net een krisis om ons lewe vir altyd in ‘n nuwe rigting te stuur. Gaan daardie een groot terugslag wat skielik my pad gekruis het my verbitterd en verwese agterlaat? Gaan my geloof permanent in trurat gegooi word? En wat van die suksesse? Gaan onverwagse deurbrake my in ‘n arrogante, selfversekerde wese verander?
Dit is midde-in sulke onverwagse oomblikke dat die ware helde van die lewe gebore word. Hulle is doodgewone mense wat weier om die knie te buig voor daardie een groot terugslag. Hulle kies om stroom-op te beur, teen alle teenstand in. Hierdie egte helde van die lewe is daardie klein bendetjie wat God se hand op ‘n nuwe manier in die donker raakvat.
Hierdie mense se verhale word in hierdie boek eerstehands gedeel. Hulle roetes is aangrypend, besielend en pleinweg dapper. Hulle lewens vertel luidkeels dat onverwagse slegte of goeie dinge nie die laaste sê oor ons het nie. Ware karakter wys midde in die storm, daar waar pyn en oordaad deur gewone individue omskep word in nuwe genaderoetes. Daardie een dag wat totaal anders was in hulle lewe het hulle toe nie platgeslaan nie. Dit het hulle juis geïnspireer tot nuwe hoogtes.

